Die Koning Van Die Eeue

3/88

Die Uitverkore Volk

VIR meer as ´n duisend jaar het die Joodse volk gewag op die koms van die Verlosser. Al hulle hoop was op daardie gebeurtenis gevestig. In sang en profesie, in rites en gebede, het hulle Sy Naam geheilig. En tog, toe Hy gekom het, het hulle Hom nie geken nie. Die Geliefde van die hemel was vir hulle soos 'n “wortel uit die droë grond;” Hy het “geen gestalte of heerlikheid” gehad dat hulle Hom sou begeer nie. “Hy het na Sy eiendom gekom, en Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.” Jes. 53: 2; Joh. 1:11. KE 22.1

Nogtans het God Israel uitgekies. Hy het hulle geroep sodat hulle onder die mense die kennis van Sy wet, en die simbole en profesieë wat op die Verlosser gewys het, kon bewaar. Sy begeerte was dat hulle heilfonteine sou wees in die wêreld. Wat Abraham was in die land van sy vreemdelingskap, wat Josef was in Egipte, en Daniël aan die Babiloniese hof, dit moes die Hebreeuse volk wees onder die nasies. Hulle moes God aan die mense openbaar. KE 22.2

Toe Hy Abraham geroep het, het die Here gesê, “Ek sal . . . jou seën . . . dat jy n seën sal wees. ... In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” Gen. 12: 2, 3. Hierdie leer is ook deur die profete herhaal. Selfs ná Israel deur oorlog en ballingskap verwoes is, het die belofte vir hulle blystaan: “Dan sal die oorblyfsel van Jakob onder baie volke wees soos dou van die Here, soos reënbuie op die plante, wat op geen mens wag nie en terwille van geen mensekind vertoef nie.” Miga 5: 6. Aangaande die tempel te Jerusalem het die Here deur Jesaja gesê, “My huis sal 'n huis van gebed genoem word vir al die volke.” Jes. 56: 7. KE 22.3

Maar Israel het hulle hoop gevestig op wêreldse grootheid. Van die tyd af dat hulle die land Kanaan binnegegaan het, het hulle afgewyk van die gebooie van God en in die weë van die heidene gewandel. Tevergeefs het God hulle deur die profete gewaarsku. Tevergeefs het Hy hulle gekasty deur heidense verdrukking. Elke hervorming is gevolg deur 'n nog groter afval. KE 23.1

As Israel getrou gebly het aan God, sou Hy Sy doel met hulle kon bereik het deur hulle te eer en te verhef. As hulle die pad van gehoorsaamheid bewandel het, sou Hy hulle “die hoogste” gestel het “bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot 'n lof en n roem en n sieraad”. “die volke van die aarde,” het Moses gesê, “sal sien dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal jou vrees.” “Die volke wat al hierdie insettinge sal hoor,” sal sê, “Waarlik, hierdie groot nasie is n wyse en verstandige volk.” Deut. 26: 19; 28: 10; 4: 6. Maar omdat hulle ontrou was, kon God Sy doel bereik alleen deur gedurige beproewing en vernedering. KE 23.2

Hulle is deur Babilon onderwerp en oor die heidense lande versprei. In hulle beproewing het baie weer hulle getrouheid aan Gods verbond hernieu. Terwyl hulle hulle harpe aan die wilgers gehang en getreur het oor die tempel wat verwoes is, het die lig van die waarheid deur hulle geskyn, en 'n kennis van God is onder die volke versprei. Die heidense stelsel van offerandes was 'n verdraaiing van die stelsel van God, en baie wat in opregtheid die heidense rites gevolg het, het van die Hebreërs die betekenis geleer van die goddelike instellings, en in geloof het hulle die belofte van 'n Verlosser aangeneem. KE 23.3

Baie van die bannelinge moes vervolging verduur. Vele het met hulle lewe geboet omdat hulle die Sabbat nie wou veronagsaam en die heidense feeste hou nie. Toe afgodedienaars opgestaan het om die waarheid uit te delg, het die Here Sy diensknegte voor konings en regeerders laat verskyn sodat hulle en hulle volk die lig mag ontvang. Keer op keer is die grootste konings gedwing om te getuig van die opperheerskappy van die God wat die Hebreeuse bannelinge gedien het. KE 23.4

Deur die Babiloniese ballingskap is die Israeliete heeltemal genees van die aanbidding van beeide. Gedurende die daaropvolgende eeue is hulle verdruk deur heidense vyande, totdat hulle eindelik oortuig was dat voorspoed afhanklik was van gehoorsaamheid aan die wet van God. Maar in die geval van te veel van die mense het daardie gehoor-saamheid nie uit liefde gespruit nie. Die motief was selfsug. Hulle het God uiterlik gedien as middel tot nasionale grootheid. Hulle het nie die lig van die wêreld geword nie, maar hulleself afgesonder van die wêreld teneinde versoeking tot afgodery te ontvlug. In die onderrig deur Moses, het God hulle omgang met die afgodedienaars beperk; maar hierdie leer is verkeerd verstaan.Die doel daarvan was om hulle te belet om mee te doen aan die heidense gebruike, maar hulle het daarvan 'n skeidsmuur gemaak tussen Israel en alle ander nasies. Die Jode het Jerusalem beskou as hulle hemel, en hulle was inderwaarheid jaloers dat God miskien ook genade sou betoon aan die heidene. KE 23.5

Ná die terugkeer uit Babilon is daar baie aandag bestee aan godsdiensonderrig. Deur die hele land is daar sinagoges opgerig waar die wet deur priesters en skrifgeleerdes verklaar is. Daar is skole gestig wat saam met die kunste en wetenskappe ook voorgegee het om die beginsels van geregtigheid te leer. Maar hierdie middels het ontaard. Gedurende die ballingskap het baie van die mense besoedel geraak met heidense idees en gebruike, en dit het hulle by hulle godsdiens ingelyf. In baie dinge het hulle die gebruike van die afgodedienaars gevolg. KE 24.1

Namate hulle van God afgewyk het, het die Jode in 'n groot mate die leer van die rituaal uit die oog verloor. Daardie diens is deur Christus self ingestel. Elke deel daarvan het Hom gesimboliseer, en dit was vol krag en geestelike skoonheid. Maar die Jode het die geestelike lewe uit hulle seremonies verloor, en vasgekleef aan die dooie vorms. Hulle het op die offerandes en insettinge as sulks vertrou, pleks van op Hom na wie daardie dinge verwys het. Om die piek in te neem van die dinge wat hulle verloor het, het die priesters en rabbi's allerhande reëls van hulle eie ingestel, en hoe strenger hulle geword het, hoe minder van die liefde van God het hulle geopenbaar. Hulle het hulle heiligheid gemeet volgens hulle talryke seremonies, met hulle harte vol hoogmoed en skynheiligheid. KE 24.2

Met al hulle onbenullige en lastige voorskrifte, het dit onmoontlik geword om die wet te hou. Diegene wat begerig was om God te dien en wat probeer het om die rabbynse voorskrifte te hou, het onder 'n swaar las gebuk gegaan. Hulle kon geen gemoedsrus vind nie. So het die Satan gewerk om die mense te ontmoedig, om hulle begrip van die karakter van God te verduister, en om Israel veragtelik te maak. Hy het gehoop om sy aantyging te bewys wat hy gemaak het toe hy in die hemel gerebelleer het, naamlik dat die vereistes van God onregverdig is en nie nagekom kan word nie. Selfs Israel, het hy aangevoer, hou nie die wet nie. KE 24.3

Hoewel die Jode verlang het na die koms van die Messias, het hulle geen ware begrip van Sy sending gehad nie. Hulle het nie verlossing van die sonde gesoek nie, maar verlossing van die Romeine. Hulle het verwag dat die Messias sou kom as veroweraar, om die mag van die verdrukker te breek, en Israel te verhef tot opperheerskappy. So is die weg berei om die Verlosser te verwerp. KE 25.1

In die tyd toe Christus gebore is, het die volk gely onder die juk van vreemde meesters, en hulle is geteister deur inwendige stryd. Die Jode is toegelaat om 'n soort van eie regering te hê, maar niks kon die feit verbloem dat hulle onder die Romeinse juk was, of hulle versoen met die beperking van hulle mag nie. Die Romeine het die reg voorbehou om die hoëpriester aan te stel of te ontslaan, en dikwels is daardie pos verkry deur bedrog, omkopery, en selfs moord. So het die priesterskap al meer en meer verdorwe geword. Maar die priesters het nogtans groot mag gehad, en hulle het dit gebruik vir selfsugtige doeleindes. Die volk het gely onder hulle genadelose eise, en hulle is ook swaar belas deur die Romeine. Hierdie toestand van sake het algemene ontevredenheid geskep, en herhaaldelik was daar opstande. Hebsug en geweld, wantroue en geestelike lusteloosheid het die hart van die volk verteer. KE 25.2

Haat vir die Romeine, en nasionale en geestelike hoogmoed, het die Jode genoop om hulle vorms van godsdiens nog strenger vas te hou. Die priesters het probeer om 'n reputasie van heiligheid te handhaaf deur baie noulettend te wees op die godsdienstige seremonies. Die volk, in hulle duisternis en verdrukking, en die owerstes wat mag begeer het, het verlang na die koms van die Een wat hulle vyande sou verslaan en die koninkryk aan Israel sou herstel. Hulle het die profesieë ondersoek, maar sonder geestelike insig. Daarom het hulle daardie skrifture wat verwys na die lyde van Christus by Sy eerste koms oor die hoof gesien, en die wat na Sy heerlike tweede koms verwys het, het hulle verkeerd toegepas. Hoogmoed het hulle visie benewel. Hulle het die profesieë vertolk volgens hulle eie selfsugtige idees KE 25.3