Die Koning Van Die Eeue

1/88

Die Koning Van Die Eeue

Uitgewers Voorwoord

IN die menslike hart, van watter ras en stand in die lewe ook al, is daar 'n onuitspreeklike verlange na iets wat hy nie nou het nie. Hierdie verlange is in sy wese geplant deur 'n genadige God, sodat hy nie tevrede sal wees met sy huidige toestand en prestasies nie, of hulle nou goed of minder goed is. God verwag dat die mens na die beste moet soek tot die ewige heil van sy siel. KE 5.1

Die Satan het, deur sy listigheid, hierdie verlange van die menslike hart verdraai. Hy wil die mens wysmaak dat die verlange bevredig kan word deur plesier, rykdom, gemak, beroemdheid, of mag; maar diegene wat so verlei is deur hom (en daar is 'n ontelbare menigte) word gou sat van hierdie dinge, en dit laat hulle siele net so dor en onversadig as tevore. KE 5.2

Dit is Gods begeerte dat hierdie verlange in die hart van die mens hom sal lei na die Een wat dit wel kan bevredig. Daardie verlange kom van Hom, sodat dit kan lei tot Hom wat die volheid en einddoel is daarvan. Daardie volheid sal gevind word in Jesus Christus, die Seun van die Ewige God. “Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon.” “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik.” Ons het die “volheid in Hom.” Haggai noem Hom “die skatte van al die nasies,” en ons kan Hom met alle reg “die Begeerte van alle nasies” noem, net soos Hy ook “die Koning van die eeue” is. KE 5.3

Die doel van hierdie boek is om Jesus Christus voor te stel as die Een in wie elke verlange bevredig sal word. Daar is baie boeke oor die lewe van Christus, goeie boeke, vol besonderhede oor die chronologie en geskiedenis en gewoontes en gebeurtenisse van Sy tyd, en wat baie lig werp op die veelsydige lewe van Jesus van Nasaret; maar ons kan in alle waarheid sê, “Die helfte is nog nooit vertel nie.” KE 5.4

Dit is nie die doel van hierdie boek om die ooreenstemming van die Evangelies voor te stel, of om selfs die belangrike gebeurtenisse, en die wonderlike lesse van die lewe van Christus in chronologiese volgorde op te stel nie; maar die doel is om die liefde van God, soos geopenbaar in Sy Seun, en die heerlike lewe van Christus, waarvan ons almal deelgenote mag word, voor te hou. Net soos Jesus deur die aantrekkingskrag van Sy eie goedheid Sy dissipels tot Hom getrek het, en deur Sy persooniike teenwoordigheid en Sy medelyde met hulle swakhede en behoeftes, hulle karakters verander het van die aardse na die hemelse, van selfsugtot selfopoffering, van bekrompenheid tot grootmoedigheid en liefde vir die siele van alle nasies en volke, net so ook is dit die doel van hierdie boek om die salige Verlosser so voor te stel dat dit die leser sal help om Hom van aangesig tot aangesig te ken, en om in Hom, net soos die dissipels vanouds, die Een te vind wat magtig is en volkome kan red almal wat deur Hom tot God kom. En tog, hoe onmoontlik is dit om Sy lewe te openbaar! Dit is net so moeilik as om die lewende kleure van die reënboog op die doek weer te gee. KE 5.5

In hierdie boek het die skryfster, 'n vrou met 'n rype ervaring in die dinge van God, nuwe heerlikhede uit die lewe van Jesus probeer voorstel. Sy het baie nuwe edelgesteentes te voorskyn gebring. Aan die leser stel sy skatte voor uit hierdie ewige skatkamer, waarvan die leser nooit gedroom het nie. Sy laat heerlike nuwe lig skyn uit baie van die welbekende skrifgedeeltes, waarvan die diepte nog nooit voorheen gepeil is nie. Om kort te gaan: Jesus word geopenbaar as die volheid van die Godheid, die barmhartige Verlosser van sondaars, die Son van Geregtigheid, die genadige Hoëpriester, die Geneser van alle menslike kwale, die ontfermende Vriend, die Vors van die Huis van Dawid, die Skild van Sy volk, die Vredevors, die Komende Koning, die Ewige Vader, die middelpunt en die verwesenliking van die begeertes en die hoop van alle eeue. KE 6.1

Met die seën van God word hierdie boek aan die wereld gegee met die bede dat die Heilige Gees die woorde daarvan die woorde van die lewe sal maak vir baie siele wie se begeertes en verlangens nog nie bevredig is nie; dat hulle “Hom kan ken en die krag van Sy opstanding en die gemeenskap aan Sy lyde,” en dat hulle eindelik in die ewigheid, aan Sy regterhand, daardie “volheid van vreugde” in Hom sal smaak, die Een wat “uitnemender as tienduisend,” en die “lieflikheid seit” is. KE 6.2