Die Koning Van Die Eeue
“Die Priesters Hou Saam Raad”
BETANIË was so naby Jerusalem dat die nuus van die opwekking van Lasarus gou in die stad versprei is. Deur spioene wat die wonderwerk gesien het, is die Joodse owerstes spoedig op hoogte gebring van die feite. Dadelik is daar 'n vergadering van die Sanhedrin belê om te besluit wat gedoen moes word. Christus het nou ten volle Sy mag oor die dood en die graf geopenbaar. Daardie magtige wonderwerk was die kroonstuk van die bewyse wat God aan die mense gegee het dat Hy Sy Seun in die wêreld gestuur het vir hulle verlossing. Dit was 'n openbaring van goddelike krag, genoeg om enige persoon te oortuig wat by sy volle positiewe was en wie se gewete verlig was. Baie wat die opwekking van Lasarus gesien het, het gelowig geword in Jesus. Maar die haat van die priesters teen Hom het heftiger geword. Hulle het al die mindere bewyse van Sy godheid verwerp, en hierdie nuwe wonderwerk het hulle net woedender gemaak. Die dode is opgewek, helder oordag, en voor 'n skare van toeskouers. Daar kon nie gesê word dat die wonder deur 'n slenterslag geskied het nie. Juis om hierdie rede het die woede van die priesters groter geword, en hulle was meer vasberade as ooit om 'n einde te maak aan Christus se werk. KE 546.1
Die Sadduseërs, alhoewel hulle Christus nie goedgesind was nie, was nie met soveel kwaadwilligheid teen Hom besiel soos die Fariseërs nie. Hulle haat was nie so bitter nie. Maar nou was hulle heeltemal ontstel. Hulle het nie geglo in die opstanding van die dode nie. Hulle het die sogenaamde wetenskap aangehaal, en betoog dat dit 'n onmoontlikheid was om 'n dooie liggaam weer in die lewe terug te bring. Maar deur 'n paar woorde van Christus is hulle teorie omvergewerp. Daar is bewys dat hulle onkundig was beide aangaande die Skrifte en die krag van God. Hulle het geen moontlikheid gesien om die indruk uit te wis wat deur die wonderwerk op die mense gemaak is nie. Hoe sou hulle die mense afvallig kon maak van die Een wat mag gehad het oor die graf om die dode daaruit te laat voortkom? Valse gerugte is in omloop gebring, maar die wonderwerk kon nie weggeredeneer word nie, en hoe om die uitwerking daarvan te bestry, het hulle nie geweet nie. Tot dusver was die Sadduseërs nie ten gunste daarvan om Christus om die lewe te bring nie, maar ná die opwekking van Lasarus het hulle besluit dat hulle alleen deur Sy dood Sy onverskrokke veroordelings sou kon beëindig. KE 547.1
Die Fariseërs het geglo in die opstanding, en hulle kon nie help om te sien dat hierdie wonderwerk die bewys is dat die Messias onder hulle was nie. Maar hulle het altyd Sy werk teengestaan. Hulle het Hom van die begin af gehaat omdat Hy hulle skynheiligheid aan die kaak gestel het. Hy het die mantel van die strenge seremonies waarmee hulle hulle onsedelikheid bedek het, afgeskeur. Die reine godsdiens wat Hy geleer het, het hulle geveinsde vroomheid veroordeel. Hulle het gedors na weerwraak op Hom oor Sy snydende bestraffings. Hulle het geprobeer om Hom uit te tart om iets te sê of te doen wat hulle grond sou gee om Hom te veroordeel. Verskeie maal het hulle probeer om Hom te stenig, maar Hy het Hom stil onttrek en hulle kon Hom nie vind nie. KE 547.2
Die wonderwerke wat Hy op die Sabbat gedoen het, was almal om verligting te bring aan siekes, maar die Fariseërs wou Hom op grond daarvan veroordeel as 'n Sabbatskender. Hulle het geprobeer om die Herodiane teen Hom op te wek. Hulle het Hom voorgestel as iemand wat 'n mededingende koninkryk wou stig, en hulle het planne bespreek hoe om Hom dood te maak. Om die Romeine teen Hom op te wek, het hulle Hom voorgestel as iemand wat hulle gesag wou ondermyn. Hulle het alles moontlik geprobeer om Hom te belet om die mense te beïnvloed. Maar tot dusver het al hulle pogings misluk. Die skares wat getuies was van Sy werk van genade, en Sy rein en heilige leer gehoor het, het geweet dat dit nie die dade en woorde was van 'n Sabbatontheiliger of godslasteraar nie. Selfs die dienaars wat deur die Fariseërs gestuur is, het so onder die invloed van Sy woorde gekom dat hulle Hom nie in hegtenis kon neem nie. Desperaat het die Jode eindelik 'n edik uitgevaardig dat enige persoon wat geloof in Jesus bely, uit die sinagoge geban moes word. KE 547.3
Waar die priesters, die owerstes, en die ouderlinge vergader het vir beraadslaging, was dit hulle bepaalde doel om die Een stil te maak wat sulke wonderwerke gedoen het dat al die mense verbaas was. Die Fariseërs en Sadduseërs was nog nooit so na aan eensgesindheid as nou nie. Verdeeld soos hulle voorheen was, was hulle nou eenstemmig in hulle teenstand teen Christus. By vorige raadsvergaderings kon Nikodemus en Josef dit verhoed dat Jesus veroordeel word, en dit was om hierdie rede dat hulle nou ontbied is. In die raad was daar ander in- vloedryke manne teenwoordig wat in Jesus geglo het, maar hulle invloed was magteloos teen die van die kwaadwillige Fariseërs. KE 548.1
Maar al die raadslede was dit nie eens nie. Die Sanhedrin was in daardie tyd nie 'n geregtelike liggaam nie. Dit het voortbestaan deur die guns van die Romeine. Sommige van die lede het getwyfel aan die raadsaamheid om Christus om die lewe te bring. Hulle het gevrees dat dit 'n opstand onder die volk sou verwek, wat as gevolg sou hê dat die Romeine die priesterdom nie verder sou begunstig nie, en die mag wat hulle nog gehad het, sou ontneem. Die Sadduseërs het Christus almal gehaat, maar hulle was geneig om versigtig te wees in wat hulle gedoen het, vresende dat die Romeine hulle sou onthef van hulle hoë posisie. KE 548.2
In hierdie raadsvergadering, saamgeroep met die doel om planne te maak vir die dood van Christus, was die Getuie teenwoordig wat lank tevore die trotse woorde van Nebukadnesar gehoor het, wat die afgo- diese feesmaal van Belsasar gesien het, en wat teenwoordig was toe Christus Homself as die Gesalfde verklaar het. Hierdie Getuie het nou ook die owerstes beïnvloed in die werk wat hulle gedoen het. Gebeurtenisse in die lewe van Christus het voor hulle opgedoem met 'n helderheid wat hulle ontstel het. Hulle het die toneel in die tempel onthou, toe Jesus as kind van twaalf jaar, voor die geleerde doktore van die wet gestaan, en vrae aan hulle gestel het wat hulle verbaas het. Die wonder wat Hy so pas gedoen het, het getuig dat Jesus niemand anders was as die Seun van God nie. Die Ou Testamentiese skrifgedeeltes aangaande Christus het in hulle ware betekenis deur hulle brein geflits. Verbyster en ontstel het die owerstes gevra, “Wat salons doen?” Daar was verdeeldheid in die raad. Onder die invloed van die Heilige Gees kon die priesters en die owerstes nie die oortuiging afskud nie dat hulle besig was om teen God te veg. KE 548.3
Toe die vergadering ten einde raad was, het Kajafas, die hoëpriester, opgestaan. Kajafas was 'n hoogmoedige en wrede man, heerssugtig en onverdraagsaam. Onder sy familiebetrekkings was Sadduseërs, trots, vermetel, roekeloos, eersugtig, en wreed, en hierdie karaktereienskappe het hulle bedek onder 'n mantel van geveinsde geregtigheid. Kajafas het die profesieë ondersoek, en alhoewel hy nie hulle betekenis verstaan het nie, het hy met die grootste gesag en sekerheid gesê: “Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit voordelig is vir ons dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie.” Selfs al was Jesus onskuldig, het die hoëpriester aangevoer, moes Hy uit die weg geruim word. Hy was lastig, het die mense agter Hom aan getrek, en die gesag van die owerstes verswak. Hy was maar een, en dit sou beter wees as Hy sterf liewer as dat die gesag van die owerstes ondermyn word. As die mense vertroue sou verloor in hulle owerstes, sou hulle nasionale krag vernietig word. Kajafas het aangevoer dat die navolgers van Jesus ná hierdie wonderwerk heel waarskynlik in opstand sou kom. Dan sou die Romeine kom, het hy gesê, en ons tempel sluit, ons wette afskaf, en ons as volk vernietig. Wat is tog die lewe van hierdie Galileër vergeleke met die lewe van die volk? As Hy in die pad staan van Israel se welvaart, sou ons dan nie aan God 'n diens bewys as ons Hom uit die weg ruim nie? Dit sou voordeliger wees as een man sterf as dat die hele volk vernietig word. KE 549.1
Deur te sê dat een man vir die volk moes sterf, het Kajafas getoon dat hy 'n bietjie kennis van die profesieë gehad het, alhoewel dit maar baie beperk was. Maar Johannes, in sy beskrywing van hierdie toneel, het die profesie opgeneem en gewys op die dieper betekenis daarvan. Hy sê, “En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die kinders van God wat verstrooi was, tot 'n eenheid saam te voeg.” Hoe het die trotse Kajifas blindelings die sending van die Heiland erken! KE 549.2
Op die lippe van Kajafas is hierdie kosbare waarheid in 'n leuen verander. Die beleid wat hy voorgestaan het, is ontleen aan 'n heidense beginsel. Onder die heidene het die floue besef dat iemand sou sterf vir die menslike geslag daartoe aanleiding gegee dat menslike slag- offers geoffer is. Wat Kajafas voorgestel het, was dat Jesus geoffer moes word om die skuldige nasie te red, nie van oortreding nie, maar in hulle oortreding, sodat hulle in die sonde mag voortlewe. En deur hierdie redenasie het hy gemeen om die besware te beantwoord van diegene wat die moed gehad het om te sê dat daar in Jesus nog niks gevind is wat die dood verdien het nie. KE 550.1
Op hierdie raadsvergadering het die vyande van Christus tot diepe oortuiging gekom. Die Heilige Gees het 'n indruk op hulle harte gemaak. Maar die Satan het gestry om die oorhand oor hulle te kry. Hy het die ontberings onder hulle aandag gebring wat Christus hulle laat ly het, en hoe min Hy hulle geregtigheid geëer het. Hy het 'n baie groter geregtigheid voorgehou vir diegene wat kinders van God wou wees. Hy het geen notisie geneem van hulle gebruike en seremonies nie, en Hy het sondaars aangeraai om reguit na God te gaan as 'n barmhartige Vader, en aan Hom hulle behoeftes bekend te maak. Dus, na hulle mening, het Hy die priesterdom oor die hoof gesien. Hy wou die teologie van die rabbynse skole nie aanneem nie. Hy het die wanpraktyke van die priesters geopenbaar, en hulle invloed onherstelbaar geskaad. Hy het die uitwerking van hulle stellings en tradisies verswak, en gesê dat hoewel hulle die seremonies streng toegepas het, hulle die wet van God kragteloos gemaak het. Aan al hierdie dinge het die Satan hulle nou herinner. KE 550.2
Die Satan het aan hulle gesê dat as hulle hulle gesag wil behou, sal hulle Jesus moet doodmaak. Hierdie raad het hulle gevolg. Die moontlikheid dat hulle die mag kon verloor wat hulle toe gehad het, was, het hulle gedink, genoegsame rede om tot 'n definitiewe besluit te kom. Met die uitsondering van 'n paar wat nie die moed gehad het om te praat nie, het die Sanhedrin die woorde van Kajafas aangeneem as die woorde van God. Daar het verligting in die raad gekom; die tweedrag het opgehou. Hulle het besluit om Christus om die lewe te bring by die eerste geleentheid. Deur die bewys van die Godheid van Jesus te verwerp, het hierdie priesters en owerstes hulleself omhul met 'n ondeurdringbare duisternis. Hulle het volkome onder die mag van die Satan gekom, sodat hy hulle vinnig in die afgrond van ewige ondergang kon dompel. Hulle is in so 'n mate bedrieg dat hulle baie tevrede met hulleself was. Hulle het halleseif beskou as patriotte wat die heil van die volk gesoek het. KE 550.3
Die Sanhedrin het egter gevrees om onverstandige stappe teen Jesus te doen, want dit kon miskien die volk opsweep, en die geweld wat hulle teen Hom bedink het, mag op hulle eie hoof neerkom. Dit was om hierdie rede dat die raad getalm het om die vonnis uit te voer wat hulle gevel het. Die Heiland het geweet van die planne van die priesters. Hy het geweet dat hulle Hom baie graag uit die weg wou ruim, en dat hulle eerlank hulle planne sou uitvoer. Maar dit was nie vir Hom om die krisis te verhaas nie, en Hy het Homself uit daardie gebied onttrek en Sy dissipels saam met Hom. So het Jesus weer deur Sy eie voorbeeld die leer nageleef wat Hy aan Sy dissipels gegee het, “Wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe.” Matt. 10: 23. Daar was 'n groot gebied om in te werk vir die redding van siele; en tensy getrouheid aan Hom dit nodig gemaak het, moes die dienaars van die Here nie hulle lewe in gevaar stel nie. KE 551.1
Jesus het nou drie jaar van openbare diens aan die wêreld gegee. Sy voorbeeld van selfverloëning en onbaatsugtige weldadigheid het hulle altyd voor hulle gehad. Sy lewe van reinheid, van lyding en toe- wyding, was bekend aan almal. Maar hierdie kort tydperk van drie jaar was die langste wat die wêreld kon uithou in die teenwoordigheid van sy Verlosser. KE 551.2
Sy lewe hier op aarde was een van vervolging en belediging. Uit Betlehem verdryf deur 'n nydige koning, deur Sy eie mense verwerp in Nasaret, sonder oorsaak tot die dood veroordeel in Jerusalem, het Jesus, met Sy paar getroue volgelinge 'n tydelike toevlugsoord gevind in 'n vreemde dorp. Hy wat altyd die menslike ellende gevoel het, wat die siekes genees het, wat die gesig aan die blindes gegee het, die dowes laat hoor het, die stommes laat praat het, wat die hongeriges gevoed en die treurendes vertroos het, is verjaag onder die mense vir wie se redding Hy gekom het. Hy wat op die woeste bare gewandel en deur 'n woord hulle onstuimigheid gestil het, wat duiwels uit- gewerp het, terwyl hulle uitgaan, Hom erken het as die Seun van God, wat die slaap van die dode onderbreek het, wat duisende geboei het deur Sy woorde van wysheid, was nie in Staat om die harte te bereik van diegene wat verblind was deur vooroordeel en haat, en wat hard-nekkig die lig verwerp het nie. KE 551.3