Die Koning Van Die Eeue

50/88

By die Huttefees

VAN die Jode is verwag dat hulle driemaal per jaar in Jerusalem moes vergader vir godsdienstige doeleindes. Vanuit die wolk- kolom het Israel se onsigbare Leier voorskrifte gegee in verband met hierdie byeenkomste. Gedurende die ballingskap van die Jode, kon hulle hierdie feeste nie hou nie, maar toe die mense weer in hulle eie land terug was, het hulle begin om die gedenkfeeste te vier. Dit was Gods doel dat hierdie jaarfeeste Hom in die gedagtes van die mense moes hou. Maar met 'n paar uitsonderings, het die priesters en die volksleiers die doel daarvan heeltemal uit die oog verloor. Hy wat hierdie nasionale byeenkomste verorden en hulle betekenis verstaan het, het die verdraaiing gesien. KE 454.1

Die Huttefees was die slotfees van die jaar. Dit was Gods doel dat die volk dan sou dink aan Sy goedheid en genade. Die hele land was onder Sy sorg, en het Sy seën ontvang. Dag en nag het Hy Sy wakende oog oor hulle gehou. Die sonskyn en die reën het die aarde sy vrugte laat voortbring. In die valleie en op die vlaktes van Palestina was die oes ingesamel. Die olywe is gepluk, en die uitgeperste olie was in flesse. Die palmbome het hulle vrugte gelewer. Die pers-rooi druiwetrosse was reeds deur die parskuipe. KE 454.2

Die fees het vir sewe dae aangehou, en vir die viering daarvan het die inwoners van Palestina, saam met vele uit ander lande, hulle wonings verlaat en na Jerusalem gegaan. Van heinde en ver het die mense gekom, met die simbool van vreugde in hulle hande. Oud en jonk, ryk en arm, elkeen het die een of ander gawe gebring as dankoffer aan Hom wat die jaar gekroon het met Sy goedheid, en Sy voetspore laat drup van vettigheid. Alles wat die oog kon streel en hulle blydskap kon uitdruk, is gebring uit die bosse; en die stad het gelyk soos 'n pragtige woud. KE 455.1

Hierdie fees was nie alleen die oes-dankfees nie, maar ook die gedenkfees van Gods beskermende hand oor Israel in die woestyn. Ter herdenking aan hulle tentlewe, het die Israeliete in tente of hutte van groen takke gewoon. Hulle is in die strate opgerig, in die tem- pelhowe, of op die dakke van huise. Die berge en valleie rondom Jerusalem was bedek met hierdie wonings van takke, en hulle het gewemel van die mense. KE 455.2

Met gewyde liedere en danksegging het die mense hierdie fees gevier. Net 'n kort rukkie vóór daardie fees begin het, het die Versoendag gekom, wanneer die volk, ná die belydenis van hulle sondes, in vrede met die Hemel verklaar is. So is die weg gebaan vir die vreugde van die fees. “Loof die Here, want Hy is goed, want Sy goedertierenheid is tot in ewigheid” (Ps. 106: 1) —dit het weergalm bokant al die ander musiek uit, onder hosannas en samesang. Die tempel was die sentrum van hierdie volksvreugde. Daar kon die prag van die seremoniële offerandes gesien word. Opgestel aan beide kante van die marmertrappe van die gewyde gebou, het die Levitiese koor die sang gelei. Die skare aanbidders, met hulle palm- en mirte- takke, het saamgesing — veral die refrein; en dan het stemme in die verte meegedoen totdat die omliggende berge weergalm het van die lofliedere. KE 455.3

Snags is die tempel helder verlig met lampe. Die musiek, die geswaai van die palmtakke, die blye hosannas, die groot skare mense wat bestraal is met lig van die hanglampe, die rye priesters, die grootse seremonies, alles tesaam het 'n baie indrukwekkende toneel geskep. Maar die indrukwekkendste seremonie van die fees, en een wat groot blydskap uitgelok het, was die herdenking van hulle verblyf in die woestyn. By die eerste daglumier het die priesters lank geblaas op silwertrompette, en dan het ander trompette wat antwoord, en vreugdekrete uit die hutte, weergalm oor berg en dal, en so is die feesdag verwelkom. Daarna het die priester 'n kan vol water gemaak uit Kedron; hy het dit omhoog gehou, en onderwyl die trompette geblaas het, het hy dit die breë trappe van die tempel, op maat van die musiek, uitgedra terwyl hy gesingpraat het, “Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem.” Ps. 122: 2. KE 455.4

Hy het die kan water gedra na die altaar wat in 'n sentrale plek gestaan het in die hof van die priesters. Daar was twee silwerkomme, met 'n priester by elkeen. In een is 'n kan water gegooi, en in die ander 'n kan wyn; die inhoud van albei het dan met 'n pyp gevloei terug na die Kedron, en so na die Dooie See. Hierdie seremonie met die gewyde water was 'n voorstelling van die fontein wat op bevel van God uit die rots gevloei het om die dors van die kinders van Israel te les. Dan het die lied weergalm, “Die Here Here is my krag en my psalm. . . . Julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” Jes. 12: 2, 3. KE 456.1

Toe die seuns van Josef begin klaarmaak het om na die Huttefees te gaan, het hulle gemerk dat Christus geen aanstaltes gemaak het om ook te gaan nie. Hulle het Hom bekommerd dopgehou. Sedert die genesing by Betesda het Hy geeneen van die nasionale byeenkomste bygewoon nie. Om onnodige stryd met die leiers te Jerusalem te vermy, het Hy Sy werk tot Galilea beperk. Sy skynbare verwaarlosing van die groot godsdienstige byeenkomste, en die vyandigheid teenoor Hom van die kant van die priesters en rabbi's, was iets wat diegene rondom Hom nie kon begryp nie — selfs Sy eie dissipels en Sy huisgenote kon dit nie verstaan nie. In Sy leer het Hy klem gelê op gehoorsaamheid aan die wet van God, en tog het dit geskyn asof Hy onverskillig gestaan het teenoor die goddelik-verordineerde dienste. Sy omgang met tollenaars en sondaars, Sy veronagsaming van die rabbynse instellings, en die vryheid waarmee Hy die tradisionele voorskrifte aangaande die Sabbat ter syde gestel het — dit alles het die skyn gegee dat Hy vyandig was teenoor die geestelike owerhede, en dit het baie vrae laat ontstaan. Sy broers het gedink dat Hy verkeerd gehandel het om vyande te maak van die grotes en geleerdes van die volk. Hulle het gevoel dat daardie manne reg moet wees, en dat Jesus verkeerd was deur vyandig te staan teenoor hulle. Maar hulle het Sy onberispelike lewe gesien, en alhoewel hulle hulleself nie beskou het as Sy dissipels nie, het Sy werke tog 'n diep indruk op hulle gemaak. Sy populariteit in Galilea het hulle trots laat voel; nogtans het hulle gehoop dat Hy bewys sou gee van Sy mag wat die Fariseërs sou oortuig dat Hy werklik is wat Hy gesê het. Sê nou hy is werklik die Messias, die Vors van Israel! Hierdie gedagte het hulle met trotse tevredenheid gekoester. KE 457.1

So besorgd was hulle hieroor dat hulle by Christus aangedring het om na Jerusalem te gaan. Hulle het gesê: “Vertrek hiervandaan en gaan na Judea, sodat U dissipels ook U werke kan sien wat U doen. Want niemand doen iets in die geheim, en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie. As U hierdie dinge doen, vertoon Uself aan die wêreld.” Hierdie “as” was bewys van twyfel en ongeloof. Hulle het aan Hom lafhartigheid en swakheid toegedig. As Hy weet dat Hy die Messias is, waarom dan hierdie terughoudendheid en gebrek aan optrede? As Hy regtig sulke mag het, waarom gaan Hy dan nie sonder vrees na Jerusalem en handhaaf Sy aansprake nie? Waarom doen Hy nie in Jerusalem die wonderwerke wat Hy volgens berigte in Galilea gedoen het nie? Moenie hier in die afgeleë provinsies skuil, het hulle gesê, en net jou magtige werke doen vir ongeleerde boere en vissers nie. Gaan toon Uself in die hoofstad, win die ondersteuning van die priesters en owerstes, en verenig die volk deur die stigting van die nuwe koninkryk. KE 457.2

Hierdie broers van Jesus het uit 'n selfsugtige motief geredeneer, iets wat so dikwels aangetref word in die hart van diegene wat graag vernaam wil wees. Hierdie gees is die gees wat in die wêreld heers. Hulle was kwaad omdat Jesus, pleks van na 'n aardse troon te streef, verklaar het dat Hy die brood van die lewe is. Hulle was diep teleur- gestel toe so baie van Sy dissipels Hom verlaat het. Hulle self het van Hom weggegaan om die kruis te vermy wat erkenning van Sy werke geopenbaar het, naamlik dat Hy die Een is wat van God gestuur is. KE 458.1

“Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is altyd daar. Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat My tyd nog nie daar is nie. En toe Hy dit vir hulle gesê het, het Hy in Galilea gebly.” Sy broers het Hom op 'n gebiedende toon aangespreek en die weg voorgeskryf wat Hy moes bewandel. Hy het hulle bestraffing teruggeslinger, en het hulle nie onder Sy selfopofferende dissipels geklassifiseer nie, maar by die wêreld. “Die wêreld kan julle nie haat nie,” het Hy gesê, “maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is.” Die wêreld haat nie diegene wat van dieselfde gees is as hy nie, maar het hulle lief soos sy eie. KE 458.2

Die wêreld was vir Christus nie 'n plek van gemak en selfverheerliking nie. Hy het nie op 'n kans gesit en wag om die mag en heerlikheid daarvan te gryp nie. Dit het nie so 'n prys aan Hom voorgehou nie. Dit was die plek waarheen Sy Vader Hom gestuur het. Hy is gegee as die lewe van die wêreld, om die groot verlossing te bewerkstellig. Hy was besig om Sy werk te doen vir die gevalle geslag, maar Hy moes nie vermetel wees,Homself in gevaar begoef en die krisis verhaas nie. Elke gebeurtenis in Sy werk het sy aangewese uur gehad. Hy moes geduldig wag. Hy het geweet dat Hy die haat van die wêreld sou moes verduur; Hy het geweet dat Sy werk tot die dood sou lei; maar om Homself vóór die tyd in gevaar te stel was nie die wil van Sy Vader nie. KE 458.3

Van Jerusalem af het die gerugte van Christus se wonderwerke versprei tot alle plekke waar daar Jode was; en al was Hy vir baie maande reeds afwesig van die feeste, het die belangstelling in Hom nie afgeneem nie. Uit alle dele van die wêeld het baie opgekom vir die Huttefees in die hoop dat hulle Hom sou sien. Aan die begin van die fees is daar baie verneem na Hom. Die Fariseërs en owerstes het gekyk wanneer Hy dan kom, hopende dat hulle kans sou kry om Hom te veroordeel. Besorgd het hulle gevra, “Waar is Hy;” maar niemand het geweet nie. Hy was gedurig in hulle gedagtes. Uit vrees vir die priesters en owerstes het niemand dit gewaag om Hom te erken as die Messias nie, maar orals is Hy in die stilte ernstig bespreek. Vele het Hom verdedig as iemand wat van God gestuur is, terwyl ander Hom veroordeel het as 'n bedrieër van die volk. KE 459.1

In die tussentyd het Jesus stil in Jerusalem aangekom. Hy het met 'n pad gekom wat nie veel gebruik is nie om die reisigers te vermy wat uit alle oorde op weg was na die stad. As Hy by enige van die karavane sou aansluit wat na die fees gegaan het, sou die openbare aandag op Hom gevestig gewees het by Sy aankoms in die stad, en 'n volksdemonstrasie ten gunste van Hom sou die owerheid teen Hom laat optree het. Dit was om dit te vermy dat Hy verkies het om alleen te reis. KE 460.1

In die middel van die fees, toe die opgewondenheid oor Hom die hoogtepunt bereik het, het Hy die voorhof van die tempel binnegestap in die teenwoordigheid van die skare. Omdat Hy afwesig was van die fees, is daar gesê dat Hy dit nie kon waag om Homself in die mag van die priesters en owerstes te stel nie. Almal was verbaas toe hulle Hom sien. Almal het geswyg, en hulle was verbaas oor die waardigheid en moedigheid van Sy gedrag te midde van magtige vyande wat Sy dood verlang het. KE 460.2

Waar Hy daar gestaan het, met die oë van die hele skare op Hom gevestig, het Jesus hulle toegespreek soos geen mens nog ooit gedoen het nie. Sy woorde het 'n kennis getoon van die wette en instellings van Israel, van die offerstelsel, en die leer van die profete, wat die van die priesters en rabbi's ver oortref het. Hy het deur die versperrings van formalisme en tradisie gebreek. Die tonele van die toekomstige lewe het Hy voor Hom gesien. Soos iemand wat die Onsienlike sien, het Hy van die aardse en hemelse, en van die menslike en goddelike met bepaalde gesag gepraat. Sy woorde was baie duidelik en oortuigend; en weer, soos by Kapernaum, was die mense verslae oor Sy leer, “want Sy woord was met gesag.” Lukas 4: 32. Hy het verskillende beelde gebruik en die mense gewaarsku teen die ramp wat sou volg indien hulle die ander sou volg wat die seëninge verwerp wat Hy gebring het. Hy het hulle alle moontlike bewys gegee dat Hy van God gekom het, en Hy het alle pogings aangewend om hulle tot bekering te bring. Hy sou nie verwerp en vermoor word deur Sy eie volk as Hy hulle kon red van die skuld van so 'n daad nie. KE 460.3

Almal was verbaas oor Sy kennis van die wet en die profesieë, en hulle het onder mekaar gevra, “Hoe kom Hy aan die geleerdheid terwyl Hy geen onderwys ontvang het nie?” Niemand is as bevoeg beskou om 'n geestelike leraar te wees tensy hy in die rabbynse skole gestudeer het nie, en beide Jesus en Johannes die Doper is as ongeleerd beskou omdat hulle nie daardie onderrig ontvang het nie. Diegene wat hulle gehoor het, was verbaas oor hulle kennis van die Skrifte, aangesien hulle “geen onderwys” ontvang het nie. Dis waar: van mense is hulle nie geleer nie, maar die God van die hemel was hulle Leraar, en van Hom het hulle die hoogste wysheid ontvang. KE 460.4

Terwyl Jesus daar in die voorhof van die tempel gespreek het, het Hy die mense geboei. En juis daardie manne wat die heftigste teen Hom gekant was, het gevoel dat hulle magteloos was om Hom kwaad aan te doen. Vir 'n tyd is alle ander belange vergeet. KE 461.1

Dag na dag het Hy die mense geleer tot op die laaste, “die groot dag van die fees.” Op die more van daardie dag was die mense moeg en afgemat van die lang feestelikhede. Skielik het Jesus Sy stem verhef sodat Hy dwarsdeur die tempelhowe gehoor kon word: KE 461.2

“As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Die toestand van die volk het hierdie oproep baie kragtig gemaak. Hulle was betrokke in onafgebroke feestelikhede, hulle oë was verblind deur die lig en kleure, en in hulle ore het die musiek weerklink; maar in al hierdie feestelikhede was daar niks wat in hulle geestelike behoeftes voorsien het nie, niks om die dors van die siel te les vir die dinge wat nie vergaan nie. Jesus het hulle uitgenooi om te kom drink van die fontein van die lewe, van daardie water wat in hulle 'n fontein sou word wat opwel tot die ewige lewe. KE 461.3

Die priester het daardie more deur die seremonie die slaan van die rots in die woestyn herdenk. Daardie rots was 'n simbool van Hom wat deur Sy dood lewende strome van saligheid sou laat vloei na almal wat dors het. Christus se woorde was die water van die lewe. Daar in die teenwoordigheid van die vergaderde skare het hy Homself gestel om geslaan te word, sodat die water van die lewe kan vloei na die wêreld. Deur Christus te slaan, het die Satan gemeen om die Vors van die lewe te vernietig; maar uit die geslaande rots het daar lewende water gevloei. Toe Jesus so met die mense gepraat het, het daar 'n vreemde eerbied in hulle harte gekom, en baie was gereed om te sê, soos die Samaritaanse vrou, “Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry . . . nie.” Joh. 4: 15. KE 461.4

Jesus het die behoeftes van die siel geken. Prag, rykdom, en eer kan die hart nie bevredig nie. “As iemand dors het, laat hom na My toe kom.” Die rykes, die armes, die aansienlikes, die eenvoudiges, almal is ewe welkom. Hy belowe om die belaste hart te verlig, om die treurendes te troos, en om hoop aan die neerslagtiges te gee. Baie van die wat Jesus gehoor het, het getreur oor beskaamde hoop, baie het 'n grief in die hart gekoester, en vele het gesoek om hulle rustelose verlangens te versadig met die dinge van die wêreld en die lof van mense; maar wanneer hulle dit alles verkry het, het hulle gevind dat hulle by “gebarste reënbakke” gekom het en nie hulle dors kon les nie. Daar, op die blye toneel, het hulle gestaan, ontevrede en droefgeestig. Daardie skielike geroep, “As iemand dors het,” het hulle gewek uit hulle droefgeestige mymering, en die verdere woorde wat hulle gehoor het, het hulle harte met nuwe hoop vervul. Die Heilige Gees het die simbool voor hulle gestel totdat daarin die aanbod gesien is van die kosbare gawe van verlossing. KE 462.1

Die roepstem van Christus gaan nog steeds uit tot die dorstige siel, en dit tref ons met nog groter krag as dié wat dit gehoor het in die tempel op daardie laaste dag van die fees. Die fontein is oop vir almal. Diegene wat afgemat en uitgeput is, kry 'n aanbod van die verkwikkende water van die ewige lewe. Jesus roep vandag nog, “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!” “Laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” Openb. 22: 17; Joh. 4: 14. KE 462.2