Skrede na Christus

12/13

Hoofstuk 12: Wat om met Twyfel te Doen

DAAR is baie, veral diegene wat net so pas die Christelike geloof aangeneem het, wat met tye ongelukkig is omdat hulle twyfel. In die Bybel is daar baie dinge wat hulle nie kan verklaar of verstaan nie, en Satan maak daarvan gebruik om hulle geloof in die Skrifte te ondermyn. Hulle vra: “Hoe sal ek die regte pad vind? As die Bybel inderwaarheid die Woord van God is, hoe kan ek ontslae raak van die twyfel en die onsekerheid uit die weg ruim?” SC 106.1

Die Here vra ons nooit om te glo sonder om genoegsame bewys te lewer waarop ons geloof gevestig kan word nie. Sy bestaan, Sy karakter, die waarheid van Sy Woord - al hierdie dinge berus op getuienis wat ons kan aanneem; en hierdie getuienis is oorvloedig. Maar God het nie die moontlikheid van twyfel uit die weg geruim nie. Ons geloof moet op bewyse berus, en nie van vertoon afhang nie. Diegene wat graag wil twyfel, sal baie geleentheid daarvoor hê; terwyl diegene wat waarlik verlang om te glo, baie bewyse sal vind om hulle geloof te ondersteun. SC 106.2

Dit is vir die beperkte menseverstand onmoontlik om die karakter en werke van die Ewige God ten volle te verstaan. Vir die skerpste verstand en diegene met die beste geleerdheid sal die Opperwese altyd met geheimsinnigheid geklee wees. “Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige? Hoogtes van die hemel is dit -wat kan jy doen? Dieper as die doderyk; wat kan jy weet?” Job 11:7, 8. SC 106.3

Die apostel Paulus roep uit: “o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë!” Rom. 11:33. Maar hoewel “wolke en donkerheid rondom Hom is”, is “geregtigheid en oordeel die grondslag van Sy troon”. Ps. 97:2. Ons kan Sy optrede teenoor ons en die redes wat Hom daartoe aanspoor tot so 'n mate verstaan, dat ons die grenslose liefde wat gepaard gaan met oneindige mag, kan begryp. Ons kan net soveel van die voorneme van God verstaan as wat tot ons voordeel kan wees. Verder as dit moet ons maar net die hand wat almagtig en die hart wat vol liefde is, vertrou. SC 107.1

Die Woord van God, en ook die karakter van sy Goddelike Outeur, handel oor verborgenhede wat nooit ten volle deur die beperkte menseverstand verstaan sal word nie. Die verskyning van die sonde in die wêreld, die vleeswording van Christus, die wedergeboorte, die opstanding, en nog baie van die ander Bybelse onderwerpe, is verborgenhede te diep vir die menslike verstand om te verstaan of te verklaar. Maar daar is geen rede waarom ons aan die Woord van God hoef te twyfel omdat ons nie al Sy verborgenhede verstaan nie. In die natuur is daar gedurig verborgenhede wat ons nie kan verklaar nie. Selfs die laagste vorms van lewe bevat geheime wat die grootste wysgere nie kan verklaar nie. Orals is daar geheime wat ons nie kan verstaan nie. Moet ons dan verbaas wees as daar op geestelike gebied ook verborgenhede bestaan wat ons verstand te bowe gaan? Die probleem kan net toegeskryf word aan die swakheid en die perke waaraan die menslike verstand onderhewig is. In die Skrif het God ons genoeg bewyse gegee van die hemelse oorsprong van Sy Woord, en ons moet dit nie in twyfel trek omdat ons nie al Sy verborgenhede kan verstaan nie. SC 107.2

Die apostel Petrus sê dat daar in die Skrifte dinge is wat “swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai... tot hulle eie verderf”. 2 Pet. 3:16. Ongelowiges beskou die uitdagings in die Skrifte as genoegsame rede om aan die Bybel te twyfel; maar hierdie dinge is eerder 'n bewys van die Goddelike oorsprong daarvan. As die Bybel maar net getuig het van dit wat ons maklik kan verstaan; as die grootheid en ma-jesteit van God deur die menslike verstand begryp kon word, sou die Bybel nie onweerlegbare bewyse bevat het van sy Goddelike ingewing nie. Dit is juis die heerlikheid en verborgenheid van die waarhede wat daarin na vore kom wat ons daarvan oortuig dat dit die Woord van God is. SC 109.1

Die Bybel verklaar die waarheid op so 'n eenvoudige manier en dit word op so 'n doeltreffende wyse aangepas by die behoeftes en verlangens van die mensdom dat dit selfs die geleerdste mense verbaas, en terselfdertyd die weg tot die saligheid aan die nederige en onverfynde mense openbaar. En tog handel hierdie waarhede, wat in eenvoudige taal aangebied word, oor onderwerpe wat so verhewe, so verrykend is dat die omvang daarvan ons verstand te bowe gaan, maar ons kan dit aanvaar omdat God dit bekend gemaak het. Op hierdie manier word die plan van verlossing geopenbaar sodat elkeen kan sien watter stappe hy moet neem om hom tot God te bekeer, om Jesus Christus aan te neem en om verlos te word. Nogtans bevat hierdie waarhede wat ons so maklik verstaan, geheimenisse wat die heerlikheid van God verberg - verborgen-hede wat 'n mens nie kan deurgrond nie, maar wat tog die opregte soeker na die waarheid met eerbied en geloof besiel. Hoe meer ons die Bybel ondersoek, hoe sterker is ons oortuig dat dit die woord van die lewende God is; en die mens buig neer voor die majesteit van die Goddelike woord. SC 109.2

Om te erken dat ons nie die groot waarhede van die Bybel ten volle kan verstaan nie, beteken slegs om te erken dat die beperkte menslike verstand nie die ewige dinge kan verstaan nie; dat die mens met sy beperkte kennis nie die Alwyse kan begryp nie. SC 109.3

Omdat hulle nie die verborgenhede daarvan kan deurgrond nie, verwerp die twyfelaars en ongelowiges die Woord van God; en nie almal wat voorgee om God se Woord te glo is teen die gevaar van vertwyfeling gevrywaar nie. Die apostel waarsku: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie”. Heb. 3:12. Dit is heeltemal reg om die leerstellings van die Bybel noukeurig te bestudeer en om die “dieptes van God”, sover dit in die Skrif geopenbaar is te ondersoek. Terwyl “die verborge dinge vir die Here onse God is,” is “die geopenbaarde dinge vir ons”. Deut. 29:29. Maar Satan is daarop uit om die onderskeidingsvermoë van denkende mense in die verkeerde rigting te stuur. 'n Sekere mate van hoogmoed gaan gepaard met die studie van Bybelse waarhede. Dit maak die een wat dit doen ongeduldig, hy voel dat hy misluk het as hy nie elke deel van die Skrif kan verklaar nie. Dit is te vernederend vir hom om te erken dat hy nie die geinspireerde woord kan verstaan nie. Hy is nie bereid om geduldig te wag totdat dit God behaag om die waarhede aan hom te openbaar nie. Sulke mense meen dat hulle insig, sonder hulp van die Here, voldoende is om die Skrif te verstaan, en as hulle nie daarin slaag nie, verwerp hulle die gesag van die Woord van God. Dit is waar dat baie teorieë en leerstellings wat volgens die beskouing van vele op Bybelse grond berus, geen Bybelse gesag het nie en inderwaarheid teenstrydig met die Bybel is. Hierdie dinge het baie tot vertwyfeling gebring. Hulle beroep hulle egter nie op die gesag van God se Woord nie, maar wyk daarvan af. SC 110.1

As dit vir geskape wesens moontlik was om God en Sy werke ten volle te begryp, sou daar vir hulle, wanneer hulle hierdie stadium bereik, geen verdere waarhede en kennis wees om op te doen, en geen verdere ontwikkeling van hart en verstand wees nie. God sou dan na hulle mening nie meer die Opperwese wees nie; en die mens, aangesien hy die perke van sy ontwikkeling bereik het, sou dan geen vordering meer maak nie. Laat ons die Here dank dat dit nie die geval is nie. God is ewig; “in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind”. Kol. 2:3. En deur die ewigheid heen sal die mens bly studeer en leer, maar nooit die skatte van Sy wysheid, Sy goedheid en Sy almag uitput nie. SC 110.2

Dit is die doel van God dat die waarhede van Sy Woord selfs in hierdie lewe steeds meer en meer aan Sy volk geopenbaar sal word. Daar is slegs een manier waarop hierdie kennis opgedoen word. SC 111.1

Ons kan God se Woord alleen verstaan as die Heilige Gees, wat die woord aan ons gegee het, ons die insig gee om dit te begryp. “So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God”, “maar God het dit aan ons deur Sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God”. 1 Kor. 2:11, 10. Die Heiland het die volgende belofte aan Sy navolgers gegee: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei;... omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig”. Joh. 16:13, 14. SC 111.2

God wil hê dat die mens Sy verstand moet gebruik; en daar is niks wat die verstand so versterk en ontwikkel soos 'n onder-soek van die Bybel nie. Ons moet egter oppas dat ons nie 'n god van die verstand maak, wat onderhewig is aan die swakhede van die mens nie. As ons wil hê dat die Skrifte nie ons verstand moet benewel sodat ons selfs die eenvoudigste waarhede nie sal verstaan nie, moet ons die eenvoud en geloof van 'n kind hê -bereid om te leer en gewillig om die hulp van die Heilige Gees in te roep. As ons 'n begrip het van die almag en wysheid van God, en van ons onvermoë om Sy grootsheid te verstaan, sal dit ons nederig maak; en ons behoort Sy Woord met eerbied oop te maak, net soos ons met heilige ontsag in Sy teenwoordigheid sou kom. Wanneer ons die Bybel bestudeer, moet die verstand aan die hoër gesag onderhewig wees; die hart en verstand moet neerbuig voor die Almagtige “EK IS”. SC 112.1

Daar is baie dinge wat oënskynlik duister of moeilik is, maar wat God aan diegene wat verlang om dit te verstaan sal ver-duidelik, maar sonder die leiding van die Heilige Gees loop ons gedurig gevaar om die Skrifte verkeerd te vertolk en uit verband aan te haal. Die Bybel word dikwels gelees sonder dat daarby baat gevind word en in baie gevalle is dit ongetwyfeld nadelig. Wanneer die Woord van God sonder eerbied en gebed gelees word; wanneer die aandag en die hartsverlange nie op God gevestig, en in harmonie met Sy wil is nie; die verstand deur twyfel benewel word, sal die studie van die Bybel juis aanleiding gee tot onsekerheid. Die vyand voer beheer oor die gedagtes en doen verkeerde interpretasies aan die hand. Wanneer mense, hoe geleerd hulle ook al mag wees, probeer om hulle woorde en dade met die wil van God te vereenselwig, loop hulle gevaar om die Skrif verkeerd te verstaan, en dis nie veilig om na hulle verduidelikings te luister nie. Diegene wat die Skrifte ondersoek om daarmee fout te vind, het nie geestelike insig nie. Hulle verwronge beskouings laat hulle twyfel aan beginsels wat inderwaarheid duidelik en eenvoudig is. SC 112.2

Hulle kan dit bedek soos hulle wil, maar die rede vir twyfel en skeptisisme is in die meeste gevalle 'n liefde vir die sonde. Die onderrig, en die beperkings wat die woord van God oplê, is onwelkom vir die hoogmoediges wat die sonde liefhet. Diegene wat onwillig is om aan die eise van die Woord te voldoen is altyd gereed om te twyfel aan die gesag van die Skrif. Om tot 'n kennis van die waarheid te kom moet daar 'n opregte begeerte wees om die waarheid te verstaan en om dit te gehoorsaam. Almal wat in hierdie gees kom om die Bybel te ondersoek, sal oorvloedige bewyse vind dat dit God se Woord is, en hulle sal 'n begrip van die waarheid opdoen wat hulle wys sal maak tot die saligheid. Christus het gesê: “As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy omtrent die leer weet.” Joh. 7:17. SC 113.1

In stede daarvan om te redekawel en die dinge wat u nie verstaan nie in twyfel te trek, moet u liewer die lig aanneem wat reeds op u pad skyn, en u sal meer lig ontvang. Wees, deur die genade van Christus, gehoorsaam aan elke plig wat vir u duidelik geword het, en dan sal u in staat gestel word om die waaraan u tans twyfel, te verstaan en uit te leef. SC 113.2

Daar is getuienis wat tot almal se beskikking is - vir die geleerdes sowel as die ongeleerdes - ondervinding is per slot van rekening die beste leermeester. Die Here nooi ons om vir onsself die waarheid van Sy Woord en van Sy beloftes op die proef te stel. Hy gebied ons: “Smaak en sien dat die Here goed is.” Ps. 34:9. Pleks om ons te verlaat op die gevolgtrekkings van ander, moet ons persoonlike ondervinding opdoen. Hy sê: “Bid en julle sal ontvang.” Joh. 16:24. Hy sal Sy beloftes gestand doen. Hulle het nog nooit gefaal nie en sal ook nie. Namate ons nader aan die Here Jesus kom, ons verheug in die volheid van Sy liefde, sal alle twyfel en duisternis opklaar in die lig van Sy aanskyn. SC 113.3

Die apostel Paulus sê dat God, “ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde”. Kol. 1:13. En elkeen wat oorgegaan het van die dood tot die lewe, “het sy seël daarop gesit dat God waar is”. Joh. 3:33. Hy kan soos volg getuig: “Ek het behoefte gehad aan hulp en het dit in Jesus gevind. Daar is voorsiening gemaak vir elke behoefte; my sielehonger is versadig, en nou is die Bybel vir my 'n openbaring van Jesus Christus. Vra u waarom ek in Jesus glo? Omdat Hy vir my 'n goddelike Verlosser is. Waarom glo ek in die Bybel? Omdat ek gevind het dat dit die stem van God tot my siel is.” Ons kan in onsself die getuienis hê dat die Bybel waar is, en dat Christus die Seun van God is. Ons weet dat ons nie verdigte fabels navolg nie. SC 114.1

Petrus het sy broeders vermaan om toe te neem, “in die genade en kennis van onse Here en Verlosser, Jesus Christus”. Wanneer die volk van God toeneem in genade, sal hulle 'n beter begrip van Sy Woord verkry. Hulle sal nuwe lig en skoonheid in die heilige waarhede daarvan sien. Dit was waar van die kerk deur al die eeue, en so sal dit wees tot die einde toe. “Terwyl die pad van die regverdiges is soos die móreglans, wat al helderder word tot die volle middag toe.” Spr. 4:18. SC 114.2

In geloof kan ons die hiernamaals tegemoet gaan en die belofte van God aanneem dat ons verstand sal ontwikkel, die menslike vermoëns verenig met die goddelike, en dat al die kragte van die siel in regstreekse kontak sal kom met die Bron van lig. Ons mag ons daarin verheug dat alles wat ons in hierdie lewe verbyster het, daar verklaar sal word; die dinge wat hier moeilik was om te verstaan, sal dan opgelos word; en waar ons beperkte verstand slegs verwarring en mislukking gesien het, sal ons die volmaakte skoonheid en harmonie bespeur. “Nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” Kor. 13:12. SC 114.3