Skrede na Christus

10/13

Hoofstuk 10: 'n Kennis van God

God openbaar Homself op baie maniere aan ons om ons in gemeenskap met Hom te bring. Die natuur spreek onophoudelik tot ons, en die hart wat ontvanklik is, sal waardering hê vir die liefde en heerlikheid van God soos geopenbaar in die dinge wat Hy geskep het. Die oor wat luister, kan hoor hoe God deur die dinge wat Hy geskape het tot ons spreek. Die groen velde, die sierlike bome, die bloeisels, die blomme, die wolke, die reën, die riviere, die heerlikheid van die uitspansel - al hierdie dinge spreek tot ons harte en nooi ons om kennis te maak met Hom wat alles geskape het. SC 85.1

Die Heiland het ons baie lesse uit die natuur geleer. Die bome, die voëls, die blomme, die berge, die mere en die blou lug daarbo, asook ons alledaagse omgewing - al hierdie dinge het Hy in Sy gesprekke ingeweef sodat ons die lesse kan onthou, selfs te midde van die sorge en geswoeg van die lewe. SC 85.2

God wil hê dat Sy kinders Sy werke moet waardeer en dat hulle hul sal verheug in die eenvoudige skoonheid van hulle aardse tuiste. Hy het skoonheid lief, maar bo alles het Hy 'n mooi karakter lief; Hy wil hê dat ons die reinheid en skoonheid, die stille sieraad van die blomme, sal weergee. SC 85.3

As ons maar net wil luister, sal ons lesse van gehoor-saamheid en vertroue leer uit alles wat God geskape het. Die sterre wat eeu na eeu hulle baan deur die lugruim volg, en selfs die kleinste atoom, alles in die natuur is onderworpe aan die wil van die Skepper. En God sorg vir alles en onderhou alles wat Hy geskape het. Hy wat die ontelbare wêrelde in stand hou, sorg ook vir die klein voëltjies wat sonder vrees hulle liedjies sing. Wanneer ons werk of bid of slaap of opstaan, die hemelse Vader hou oor ons die wag. Die ryk man in sy oorvloed, en die arm man en sy kinders in hulle armoede, almal geniet die beskerming van die Vader in die hemel. Daar val geen traan nie of God merk dit op, en daar is geen glimlag waarop Hy nie let nie. SC 86.1

As ons dit maar ten volle glo, sal ons geen onnodige kwelling hê nie. Ons lewens sal nie so vol teleurstelling wees soos nou nie; want alles, groot of klein, sal ons in die hande van God laat, wat nie in verleentheid gebring word deur ons menigvuldige sorge, of daardeur oorweldig word nie. Ons sal dan die gemoedsrus beleef wat vir baie mense vreemd is. SC 86.2

Namate ons onsself in die skoonheid van die aarde verlustig, moet ons ook oor die nuwe aarde dink, wat die vloek van die sonde en die dood nooit sal ken nie, en waar die natuur nie meer die donker skadu van die vloek sal dra nie. Ons kan ons nooit verbeel hoe heerlik die tuiste van die verlostes sal wees nie. Alles wat ons in die natuur sien, gee ons 'n baie beperkte begrip van die heerlikheid van God. Ons lees: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet”. 1 Kor. 2:9. SC 86.3

Digters en natuurkundiges praat met lof van die natuur, maar dis die Christen wat die hoogste waardering daarvoor het, aangesien hy die handewerk van sy hemelse Vader en die liefde van God kan sien in blomme, struike en bome. Niemand kan die berge, vlaktes, riviere en die see ten volle waardeer sonder om God se liefde vir die mensdom daarin te sien nie. SC 86.4

God spreek tot ons deur die voorsiening wat Hy vir ons maak, en ook deur die invloed van Sy Gees op ons hart. Onder ons omstandighede, in ons omgewing en met alles wat daagliks rondom ons gebeur, as ons harte daarop ingestel is, kan ons kosbare lesse leer. Toe die psalmdigter die voorsienigheid van God in Sy werke bespeur het, het hy gesê: “Die aarde is vol van die goedertierenheid van die Here”. “Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die Here.” Ps. 33:5; 107:43. SC 86.5

God spreek ook tot ons deur Sy Woord. Sy karakter word daarin duideliker geopenbaar; hoe Hy teenoor die mensdom optree, asook die groot werk van verlossing; Hier kry ons 'n blik op die geskiedenis van die patriarge, profete en ander heiliges van die outyd. Hulle was mense net soos ons. Ons sien hoedat hulle geworstel het met teleurstellings net soos dié wat tot ons kom, hoe hulle in versoeking beswyk het net soos ons, en nogtans weer moed geskep en deur die genade van God oorwin het; dit bemoedig ons in ons strewe na die geregtigheid. As ons van hulle ervarings lees, en van die lig en liefde en seëninge wat hulle ontvang het, ontbrand daar in ons harte ook 'n vurige begeerte om hulle na te volg en ook soos hulle met God te wandel. SC 87.1

Van die Ou-Testamentiese geskrifte het Jesus gesê (en dis ook waar van die Nuwe Testament). “Dit is die wat van My getuig”, naamlik die Verlosser in wie al ons hoop is. Ja, die hele Bybel getuig van Christus. Van die begin van die skepping af, want “sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie”, tot by die slot van die Bybel, “Ja, Ek kom gou”, lees ons van Sy werke en hoor ons Sy stem. As u die Heiland wil leer ken, ondersoek die Skrifte. SC 87.2

Vul u hart met die woorde van God. Hulle is die lewende water wat u dors sal les. Hulle is ook die lewende brood wat van die hemel kom. Jesus het gesê: “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie”. Joh. 6:53. Hy het hierdie woorde soos volg verduidelik: “Die woorde wat Ek vir julle sê is gees en is lewe”. Joh. 6:63. Ons liggame word opgebou uit wat ons eet en drink; en op geestelike gebied is dit ook so; dit is die dinge wat ons oorpeins wat ons geestelike lewe opbou. SC 87.3

Die engele is baie begerig om die verlossingsplan te verstaan; in die hiernamaals sal dit die onderwerp wees waaroor die verlostes gedurig sal praat en sing. Is dit dan nie nou ons noukeurige ondersoek werd nie? Die oneindige genade en liefde van Jesus vir ons, is dinge wat ons ernstig behoort te oorpeins. Ons behoort diep na te dink oor die karakter van ons Verlosser en Voorbidder. Ons behoort te peins oor Sy sending, naamlik die verlossing van Sy volk van hulle sondes. As ons dan so oor hierdie onderwerpe nadink, sal ons geloof en liefde sterker word, en ons gebede sal aanneemlik wees by God omdat hulle steeds meer en meer geloof en liefde sal openbaar; hulle sal verstandig en vurig wees. Daar sal meer vertroue in Jesus wees, en ons sal Sy krag om diegene te verlos wat deur Hom tot God gaan, beter verstaan. SC 88.1

Namate ons die volmaakte karakter van die Heiland oorpeins, sal die begeerte by ons ontstaan om heeltemal verander en in Sy ewebeeld herskep te word. Daar sal 'n honger en dors in die siel van die gelowige ontstaan om te word soos die Een wat hy aanbid. Hoe meer ons oor Christus dink, hoe meer sal ons met ander van Hom praat en Hom aan die wêreld voorstel. SC 91.1

Die Bybel is nie slegs vir geleerdes geskryf nie; maar dit is vir die volk oor die algemeen bedoel. Die groot waarhede wat nodig is vir die saligheid word baie duidelik verklaar, en niemand sal die pad verloor nie, behalwe diegene wat hulle eie weg volg in plaas van die geopenbaarde wil van God. SC 91.2

Ons moenie die menings van ander oor die Skrifte aanneem nie, maar ons moet vir onsself die Woord van God ondersoek. As ons toelaat dat ander vir ons dink, sal dit ons vermoëns verswak. Die edele kragte van die verstand kan so verminder deur gebrek aan oefening dat die diepere betekenis van die Woord nie verstaan sal word nie. Die ondersoek van die Woord, en om een skriftuur met die ander te vergelyk, geestelike dinge met die geestelike, sal ons kennis vermeerder. SC 91.3

Daar is niks wat die verstand so ontwikkel as Bybelstudie nie. Geen ander boek kan die gedagtes so veredel en die geestesvermoëns so versterk, as die groot Bybelwaarhede nie. As die Woord van God ondersoek sou word soos dit hoort, sal die verstand ontwikkel en die karakter veredel word, en daar sal 'n standvastigheid wees soos maar min in ons dae gesien word. SC 91.4

Maar dit sal min help om die Skrifte op 'n haastige wyse te lees. Mens kan die hele Bybel deurlees sonder om die skoonheid en dieper betekenis daarvan te verstaan. As mens een gedeelte sal ondersoek totdat dit duidelik is en die verhouding daarvan tot die verlossingsplan besef word, sal dit van meer waarde wees as 'n hele aantal hoofstukke wat sommer doelloos gelees word sonder dat daar iets uit geleer word. Hou altyd u Bybel by u, en as u kans kry, lees dit; leer die tekste van buite. Selfs as u op straat loop, kan u die tekste oorpeins. SC 91.5

Ons kan nie kennis opdoen sonder ernstige studie en gebed nie. Sommige dele van die Skrif is so duidelik dat almal hulle kan verstaan; maar daar is ander dele waarvan die betekenis nie so voor die hand liggend is nie. Die een teks moet met die ander vergelyk word; daar moet sorgvuldige navorsing en biddende oorpeinsing wees. Sulke Bybelstudie sal ryklik beloon word. Net soos die mynwerker die kosbare are van goud onder die oppervlakte ontdek, so sal ook diegene wat die Skrifte volhardend ondersoek, soos iemand wat na verborge skatte soek, die belangrike waarhede ontdek wat die onverskillige soeker nooit eens raaksien nie. Die oorpeinsing van die woorde van God in die hart, sal soos 'n stroom van lewende water wees. SC 92.1

Die Bybel moet nooit sonder gebed ondersoek word nie. Voordat ons dit lees, moet ons eers om die lig van die Heilige Gees vra, en dit sal aan ons gegee word. Toe Natanael na Jesus gekom het, het die Heiland uitgeroep: “Hier is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie!” Daarop het Natanael gevra; “Waarvandaan ken U my?” Jesus het geantwoord: “Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien”. Joh. 1:48, 49. En Jesus sal ons ook sien waar ons in die geheim bid en Hom om lig vra sodat ons die waarheid kan verstaan. Engele van lig sal by diegene wees wat in ootmoed om leiding vra. Die Heilige Gees verhef en verheerlik die Heiland. Dit is Sy werk om Christus, Sy geregtigheid, en die saligheid wat deur Hom verkry word, aan ons voor te stel. Van die Gees het Jesus gesê: “Hy sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig”. Joh. 16:14. Die Gees van Waarheid is die enigste doeltreffende leraar van die waarheid. Dink daaraan hoe belangrik God die mensekinders beskou, want Hy het Sy Seun gegee om vir hulle te sterf, en die Heilige Gees om hulle te leer en te lei. SC 92.2